top of page

Genade-skoene


Sy lê doodsmoeg in haar bed en staar na die gat in die plafon waar dit al heelnag water lek. Vandag is familiedag. In die kamer langsaan lê haar kinders nog en slaap. Ag Here, kan jy my nie maar net kom haal nie? Ek kan nie meer nie.


Sy tel haar moë lyf op en stap stadig na die stukkende wasbak met die los kraan. Haar seer hande draai die kop en sy was haar gesig met die vuil water. Vir ‘n oomblik staar sy na die dun straaltjie water wat oor haar skurwe hande spoel. Die kraan word vinnig en ongeduldig toegedraai terwyl sy na ‘n dun waslap gryp en haar gesig droog vryf. In die gekraakte spieël is die refleksie van ‘n vrou met diep myle op haar gesig. Daar is ‘n gaping tussen haar bruin en geel voortande. Tandepasta is ‘n luxury wat sy nie kan bekostig nie. Ag Here, ek kan niks bekostig nie. Die yskas staan leeg en stil. Sy staan nog vir ‘n oomblik en staar na haarself in die spieël. Hoe het sy tot hier gekom? In haar hart weet sy dat daar niks in die klein kombuisie oor is om aan mekaar te slaan vir selfs een ete nie. Sy voel hoe die naar, honger kol op haar maag ‘n draai maak aan die gedagte van haar kinders. Hoe vertel ‘n ma vir haar kinders dat sy die einde van die pad bereik het en dat sy, wat nog die hele tyd ‘n plan kon maak, nou uit planne gehardloop het. Moeg val sy tot haar knieë. Die trane loop vrylik oor die diep voue op haar gesig. Asseblief Here, asseblief. Ek smeek U om genade en hulp. Asseblief Here. Vanmôre moet ek my honger kinders in die oë kyk met leë hande. Môre moet ek hulle skool toe stuur op leë mae en hoop dat iemand iewers ‘n toebroodjie sal hê om te spaar of weg te gooi. Hulle kry skaam vir hulself, en vir hulle ma. Asseblief Here, ek smeek U. Wys asb vir my die pad, en ek sal volg. Het U dan nie beloof dat U sal voorsien nie?


Sy haal haar heel beste hemp en romp uit die kas uit. Hoekom weet sy nie. Die bra wat sy aantrek is al uitgerek en nie die regte grootte nie. Dis al wat sy het. Die romp se rek is al uitgerek en sy moet dit met ‘n tou om haar middel vasmaak. Die hemp is hopeloos te groot en pas nie by die romp nie. Dis haar beste. Sy trek ‘n haasbek kam deur haar kort hare wat die tannie oorkant die straat vir haar gesny het met ‘n stomp skêr. Kort hare benodig nie baie shampoo nie. Iewers in die laai is nog ‘n swart eyeliner van jare gelede, maar dit maak nog ‘n merk.

Geklee in haar beste, maak sy die deur van haar gebroke huisie agter haar toe, voordat die kinders wakker word. Haar maag gee nog ‘n pynlike draai. Wat wil U van my hê Here? Ek is aan die einde van die pad, en ek sien nie eens ‘n vurk nie. Die pad het doodgeloop. Daar is nie meer opsies oor nie, ek kan nie verder nie. Die lewe het my gebreek. Oral waar ek kom kry ek jammer kyke van vrouens in netjiese klere en eyebrows wat getint en geshape is. As ek nou vir ‘n onderhoud moet gaan sal ek dit ook nie kry nie, net een kyk in my rigting met my ou uitgerekte klere wat nie eens bymekaar pas nie. Daar is nie geld vir mooi-maak goed en tandartse nie, daar is skaars geld vir kos op die tafel. Vandag is daar geen geld.


Waarheen vat U my Here? Ek het nie ‘n sent aan my nie. Ek het self twee dae laas iets gehad om te eet, net bietjie warm water om my maag te probeer flous. Waar het my lewe so verkeerd begin draai? Here, ek het nie meer trane oor om te huil nie. Asseblief, ek smeek U, moenie nog die bietjie trots wat ek oor het ook van my af wegneem nie. Ek kan nie weer vir iemand vra vir hulp net om deur hul stywe pienk lippies afgejak te word nie. Die harde woorde van die dame met die wit Mercedes en die twee swartkop seuntjies op die agterste sitplek nog vars in my kop van malende gedagtes. As ek ‘n werk kon kry, as iemand my net ‘n kans wou gee, sou ek dit gevat het. Ek vra nie omdat ek wil vra nie, ek vra omdat ek geen ander keuse sien nie. Die afjak met koue raad om werk te kry en op te hou bedel sny diep. Kyk na my. Daar is nie meer ‘n gryntjie selfvertroue oor nie. Die bietjie selfbeeld wat dalk teenwoordig was, nou heeltemal afwesig.

Sy staan onder die boom in die parkeerarea. Onseker hoe sy tot daar gekom het en hoe sy so ver kon stap op ‘n leë maag. Rondom haar wemel dit van mense wat pakkies in karre laai en dit verstom haar oor hoe hard die mense probeer om haar nie raak te sien nie. Almal haastig en ongeduldig. Wat maak ek hier Here? Wat is U plan? Hier is nie ‘n enkele mens wat my sal help nie. Daar is geen wil om te help nie. Mense soos ek frustreer en irriteer ander mense.


Die trollie maak ‘n vreemde geluid soos wat dit oor die winkelvloer beweeg. Wat maak ek hier binne? Ek kan nie vir enige iets betaal nie. Liewe Vader, asb wys vir my U plan. Wat maak ek hier? Teen die tyd is my kinders sekerlik al wakker en is hulle honger en alleen. Al die mense in die winkel lyk haastig en uiters geirriteerd met my teenwoordigheid. Sommiges vermy my opsetlik, waarskynlik uit vrees dat ek vir iets gaan vra. Tussen die rakke sien ek basiese items waarna ek smag. Bietjie lyfroom, ‘n koekie seep, eiers, magarien.


Sy voel hoe die vrees die kol op haar maag vererger en die naarheid sit vlak in haar keel. En dan kom daar ‘n skielike kalmte oor haar en sy weet sy gaan oraait wees. Die skielike kalmte laat haar aanvanklik skrik, gaan die Here my uiteindelik kom haal? Maar niks gebeur nie, net die kalmte. Die Here wys vir haar ‘n vrou tussen die rakke staan. Daar is ‘n diep frons tussen haar oë en dit is duidelik dat sy diep in gedagte is. Die vrou loop met ‘n duidlike diep seer in haar rond. Maar sy straal van God se liefde en genade. Sy is vreesloos en sterk. Dit is die tipe mens waar jy weer kalmte en rustigheid vind.


Dankie Here! Vir genade en liefde en die wete dat U altyd sal voorsien. Dankie vir omgee-mense, genade-mense en luister-mense. Dankie vir sagte woorde tussen kwaai en geirriteerde kyke deur getinte wenkbroue. Dankie vir omgee en verstaan te midde van eie seer en struggles. In haar hande stap sy met twee plastieksakke, met hoender-nekke, brood, rama, lyfroom, ‘n koekie seep, en ‘n blikkie Milo. Vanaand slaap almal met vol magies, danbaarheid en ietsie lekker wat sy weet sy op haar eie nooit sal kan bekostig nie.


RECENT POSTS:
SEARCH BY TAGS:

© 2023 by NOMAD ON THE ROAD. Proudly created with Wix.com

  • b-facebook
  • Instagram Black Round
bottom of page