Sielsmoeg en uitgeput, sit ek weereens op 'n Vrydagmiddag en geniet die bietjie me-time wat ek ten minste eenkeer 'n maand aan myself toestaan. Ek kyk hoe my naels vrolik word met pienk, wat my die hele tyd wil laat giggel van opgewondenheid, en mooi afgerond word met silwer glitter. Deur die hele prosedure hou ek met gretige oë die aktiwiteite rondom my dop. Die salon is gevul met helder stemme en opgewonde giggels. Op 'n stoel sit 'n pragtige jong meisie wat geduldig terugsit terwyl 'n kunstenaar haar reeds mooi oë opkikker met nog glitter en pragtigte lang wimpers. Dan gaan sit ek in die stoel van die beste haarkapper in die stad. Ek weet, almal dink sekerlik hulle haarkapper is die beste, maar glo my gerus. My haarkapper is rêrig die beste. Ons gesels en lag oor ditjies en daatjies terwyl sy met haar gesoute hande foutloos deur my hare beweeg met haar lemme en kam. My lang wintershare val in slierte tot op die grond tot net my nuwe somersbob agterbly. Die bakstene spanning wat my die afgelope drie weke (eintlik agt maande) laat krom loop het, word vir 'n oomblik gelig. My donderwolk-gemoed verander in 'n bewolkte somersdag langs die viswaters op die rotse. Ek glimlag baie tevrede en haal my selfoon solank uit om die transaksie te voltooi. Uit die bloute en baie skielik hoor ek hoe iemand met my praat. Nie my haarkapper-vriendin nie. Ek besef dat maak nie saak hoe groot die salon is of hoeveel ander haarkappers met hul eie kliënte daar rondskarrel nie, wanneer ek in my stoel gaan sit staan die wêreld stil vir 'n oomblik en ek word weggevoer na 'n plek waar dit net ek en my haarkapper-vriendin is. Salig onbewus van enige ander asem of oor wat afluister. Die vrou sit nog met foelie en 'n swart oorjassie, die meesterstuk nog in wording. Wild vreemd vir my. Maar uit die vreemdeling se mond kom die mooiste kompliment en pragtigste glimlag. Opreg. Ek kan nie anders as om terug te glimlag nie en bedank haar vir die mooi kompliment. Ek wens almal 'n heerlike middag toe en verdwyn soos vinnig soos 'n klein dwarrelwindjie.
In die veiligheid van my warm-gebakte kar sit ek net vir 'n oomblik stil. Ek dink aan die afgelope paar weke en die spannings-bakstene op my skouers. Ek dink aan hoe ek vir net 'n paar ure van die bakstene kon vergeet en hoe ongelooflik en lig dit my laat voel het. Ek draai die sleutel en begin uit die parkering uit reverse en kies koers mall toe vir 'n paar noodsaaklikhede. Die mall is nie vir my baie bekend nie, ek kom miskien eenkeer 'n maand daar. Maar ek hou nogal van die mall. Dit kort nog net 'n Woollies en 'n Caltex garage, dan is al my gunsteling diensteverskaffers op een perseël. Rustig stap ek in die lang gekronkelde gange af en navigeer myself tot by Pick & Pay. My roete was vervuil met moë mense wat, ten spyte van hul duidelike moeg- en moedeloosheid, vir my geglimlag het. Ek het terug geglimlag. Ook moeg en moedeloos en uitgeput. Binne die winkel is 'n gedempte, dog vrolike, atmosfeer. Musiek speel oor die radio en oral stoot moë mense trollies rond wat gelaai word met daaglikse noodsaaklikhede en hier en daar 'n bederfie. Almal is moeg en moedeloos en worstel met een of ander spannings-baksteen.
Ek is die afgelope paar weke net weer herinner aan hoe hard die duiwel woeker om my te breek met onregverdigheid, feitlose skinderstories, ondankbaarheid, pessimisme en oënskynlike tydloosheid. Ek besef hoe maklik dit is om in tye van swaarkry, veral psigiese donkertye, te fokus op alles wat verkeerd loop en negatief is. Dit gebeur so maklik en vinnig om te val tot die diepste donkerstes van mens se eie siel. Die duiwel gebruik mense wat hy weet die regte knoppies druk om my te ontstel en my gedagtes te beswadder met negatiewe gedagtes. Hy gebruik my waarskynlik ook om ander mense se knoppies te druk. Net toe die donker donderwolk stadig begin nader kom, stuur ek 'n skietgebedjie op. Ag Here help my asseblief. Daar is soveel seëninge in my lewe om voor dankbaar te wees. Ek weier om vir die duiwel die mag te gee om my as 'n instrument van sy verwoesting te gebruik, in my eie sowel as ander se lewe. Daar is soveel dinge om oor te glimlag. Soveel dinge om oor opgewonde, dankbaar en positief te wees. Die Here stuur daardie middag vir my talle vreemdeling wat, te midde van hulle eie spannings-bakstene en moegheid, vir my glimlag, 'n herinnering dat niks vir die Here onmoontlik of onoplosbaar is nie. Maak nie saak hoe moeg, moedeloos, seer, gebreek of krom ek is nie, die Here is daar. By my, langs my, altyd. Daarom sal ek glimlag, vir elke vreemde en bekende gesig wat oor my pad kom. Want in my eie gebrokenheid is dit die een ding wat ek gratis kan weggee om net dalk vir iemand anders in 'n tyd van sielsdonkerte 'n baken van lig en 'n herinnering aan God se grootheid te wees.