top of page

SUSTER LIEFDE

Ek is die oudste van twee dogters. Net ons twee. Ons was nou nie juis baie close as kinders nie. Vier jaar verskil was relatief groot vir ons twee, tot ons albei klaar was met skool. Maar daar was altyd 'n tipe van ongeskrewe stel reëls wanneer dit by ons susterskap gekom het. Want die waarheid is dat wanneer jou suster gebore word, word jou beste en lojaalste vriendin ook gebore.


Ek is bevoorreg om vriendinne te hê wat baie na aan my hart is en ongelooflik beskermend en lojaal teenoor mekaar is. Maar glo my as ek sê niks kom by die vriendskap wat ek in my suster het nie. Ek het net een vriendin wat ek van skooldae af nogsteeds het. Die res het ek na skool ontmoet. Op universiteit meestal. Ons deel baie donker geheime en skandes. Daar was dae wat makliker was as ander. Maar ons was en is altyd daar vir mekaar, deur dik en dun (soms letterlik). Ek weet dat ek enige tyd op hierdie vriendinne se knoppies kan druk en hulle op myne. Net 'n vrou verstaan werklik die hart van 'n vrou en wat dit beteken om 'n vrou te wees. Die rollercoaster van emosies wat wissel van uitbundige giggels tot hartverskeurende snikke en watervalle vol trane wat oor die wange stroom in 'n kwessie van twee minute.


En dan kry jy die sussie-vriendin. Indien jy baie bevoorreg is, sussie-vriendinne. Jy sien, ek het eers heelwat later in my lewe besef dat ek my beste vriendin eintlik reeds in 1990 ontmoet het. Daar is geen vriendskap soos diè vriendskap nie. My sus was daar in my donkerste aande (letterlik) en donkerste dae. Niemand verstaan heeltemal so goed soos jou sus nie, want sy weet. Hierdie vriendin ken nie net jou diepste geheime en herinneringe nie, sy was waarskynlik deel daarvan. Geeneen kan 'n geheim bewaar soos 'n suster nie. Ek onthou 'n baie spesifieke dag in die vlei. Pa het gevra dat ons net die koeie so entjie moet aanjaag tot in die ander kamp. Dit was 'n Sondag, dus was ek en kleinsus die enigste twee beskikbare handlangers. Maar hoe moeilik kan dit nou wees? Ons het mos al baie beeste aangejag en help skuif van kamp tot kamp. Hierdie takie was geensins vir ons iets nuuts nie en verseker nie een van die moeilikstes wat ons al moes uitvoer nie.


So begin ons met die aanjaag en pa ry solank met die plaasbakkie om die hek te gaan oopmaak aan die ander punt van die groot kamp. Ek en kleinsus gesels lekker ook ditjies en datjies, lag dat die kranse antwoord gee. Anna verwys nogal ewe na die vleiland wat redelik droog is vir daardie tyd van die jaar. En ek stem saam. So kom die twee van ons tot die slotsom dat dit seker heel veilig sal wees om sommer kortpad deur die vlei te vat, dis mos dan nou so droog, in vergelyking met ander jare. Die troppie beeste loop met gemak deur die vlei en net toe ek van verligting wil sug toe snak ek eerder na my asem. Want daar staan die oudste koei in die trop en spartel en sy beweeg nie 'n dooie tree nie. Ek kon voel hoe my hart vinniger klop van die benoudheid wat besig was om oor my hart te vou. Ek sê vir Anna, kleinsus, vandag moet ons twee saamstaan en ons moet sterkstaan. Ons moet die koei hier uit die swart modder kry anders gaan sy hier vrek. En pa staan doer vir ons en wag met die plaasbakkie, salig onbewus van die penarrie waarin sy twee dogters hulself bevind.


En ons worstel met die koei, en sy is nog astrant ook want sy probeer ons stamp. Eers stoot ons die koei van agter. Toe trek ons haar. Ons probeer modder onder haar uitgrou met ons hande. Anna wil weet of die koei ons nie sal jaag en stamp as sy nou uit die modder kom nie. Geen idee, maar ons moet haar hier uit. Son trek water, ons moet roer. Van al die gespook met die koei wat vassit in die taai, swart modder is ek en sus later ook heeltemal bemodder en onherkenbaar. Moedeloos, moeg en baie vuil moet ons later erken dat ons nie vorder nie en as ons nie pa se hulp inroep nie dan vrek die koei wragtag daar in die vlei wat veronderstel is om droog te wees. En my gewete sal my so pla dat ek nooit weer slaap nie. Waarom sy nou die enigste stukkie nat, modderige vlei moes kies om deur te ploeter weet ek tot vandag toe nie. Kleinsus wil net by my weet hoe verduidelik ons dan nou aan pa hoe die koei in die eerste plek daar geland het en tweedens hoekom ons nie dadelik gaan hulp kry het nie. Hoe verduidelik ons dat ons te trots is om te erken wanneer ons hulp nodig het en dalk 'n oordeelsfout begaan het. En die modder. Swart en taai en stink.


Ek kan eerlik waar nie onthou wat met die ander beeste gebeur het en of hulle op die ou end by die regte kamp uitgekom het nie. Al wat ek onthou is dat ons uiteindelik by pa uitgekom en toe ons nog ons storie wou storie toe sê pa net klim, ons moet loop hande en rieme kry om die koei uit te trek. Hy het klaar deur die verkyker gesien wat gebeur het...


RECENT POSTS:
SEARCH BY TAGS:

© 2023 by NOMAD ON THE ROAD. Proudly created with Wix.com

  • b-facebook
  • Instagram Black Round
bottom of page