Ek is 'n gekwalifiseerde Plantpatoloog wat my mikroskope en molekulêre laboratoriumjas verruil het vir 'n klaskamer gevul met besige leerders. Wetenskap is my passie! Ek kry die geleentheid om dit elke dag uit te leef en, hopelik, van my wetenskap-passie oor te dra aan elke kind waarmee ek werk.
Ek het in 2013 my MSc graad verwerf aan die UV. Daarna het ek my onderwys loopbaan begin by Maryvale Combined School in Bloemspruit. Tydens hierdie ongelooflike begin en leerskool, het ek besef watter behoefte daar is in onderpresterende skole vir gekwalifiseerde en passievolle wetenskap onderwysers. Ongelukkig het die skooltjie aan die einde van 2013 sy FET-fase verloor.
​
Maar dit was nie die einde vir my nie. Die Here maak een deur toe, net om 'n volgende een weer oop te maak! Ek het die voorreg gekry om in 2014 my passie verder uit te leef as Wetenskap-onnie by Grey Kollege Sekondêre skool vir seuns. En dit is hier waar ek myself steeds bevind en woeker met elke seun se wetenskap-talent. My wens is om kinders se natuurlike nuuskierigheid te prikkel en saam op 'n ontdekkingsreis deur die wetenskap kurrikulum te navigeer. Elke kind is uniek, dus is elke kind se vermoë en behoeftes uniek. Wat 'n voorreg om met jong mense met groot harte te werk!
​
Ek het in 2014 my NGOS kwalifikasie voltooi en is tans besig met my 2de BSc-graad in Fisiologie en Sielkunde. Ek is ook 'n senior konsultant by Herbalife en verskaffer van die ongelooflike produkte!