Ons is mense en kan onsself soms net nie help nie. As jy jou oë uitvee is jy in een of ander groep. Hetsy 'n sosiale-groepie, werks-groepie of deesdae whatsapp-groepie. Groepies laat my aan boksies dink. En boksies laat my weer aan baie min en beknopte spasies dink. En dit maak my baie benoud. Ek ly aan engtevrees. So net die blote gedagte aan groepies en boksies laat my nekspiere styf trek van spanning en vrees. Ek kon nog nooit die groepie-verskynsel mooi verstaan nie. As ek terug dink aan my skooljare besef ek dat daar baie meer groepies was as wat ek besef het, en dat dit juis hierdie sogenaamde groepies was wat soms blywende psigiese letsels by my gelaat het. Verseker nie net by my nie.
Ek is van mening dat groepies die oorsaak kan wees van baie kommunikasie-gapings en seermaak. Meestal onbewustelik. Die mens hou nie van alleen wees nie, ons is nie so aanmekaar gesit nie. Soms is alleen-wees noodsaaklik en lekker, maar nie altyd nie. Ek het al mense ontmoet wat omring is deur baie mense, maar wat ongelooflik eensaam is. Hoekom? Want, hulle is nie deel van die groepie nie. En die groepslede is nie eens daarvan bewus dat hulle iemand seermaak, uitsluit of eensaam laat voel nie. Jy kry die groepies wat vreeslik saam lag en lekker gesels, tot iemand anders nader kom of by hulle aansluit. Dan raak die groepslede stil en begin een vir een verdwyn net om weer by 'n ander punt bymekaar aan te sluit. Dit is altyd vir my interessant hoe hierdie tipe mense mekaar altyd uitsnuffel. Die lede van hierdie tipe groep besluit met wie hulle hulself wil assosieer sonder om 'n woord te spreek. En as jy nie deel van die goedgekeurde lys is nie is daar geen plek vir jou by hul geselsies en grappies nie, moontlik omdat jy dalk die wortel van die interne-grappies en spottery is.
Dan kry ons natuurlik die uitgeworpenes-groepie. Lede van die groep bestaan uit mense wat basies slegs een ding in gemeen het. Hulle is uitgeworpen deur die groep wat ek sopas beskryf het. Dit is gewoonlik mense wat juis hulself eintlik met sterk mense moet omring vir ondersteuning en raad, maar die "sterkes" stel nie belang in swakkelinge nie. Dan kry jy die groepie wat vorm omdat individue in daardie groep dink hulle is die populêre deel van die groter groep. Die individue wat tog so voorbeeldig is en niks verkeerd kan doen nie en altyd die regte ding vir die regte mense sê en doen, maar onder mekaar wys hul ware kleure. Die donker binne-kamers van hul harte word slegs aan die wat naaste aan hulle is ontbloot, of nie. Daar is nog baie ander tipes groepies.
Ons moet versigtig wees vir wat in ons groepies gebeur en gesê word. Vandag vra ek aan myself 'n paar vrae. Die antwoorde laat my so nou en dan skrik, en selfs bloos van skaamte. Is ek een van die wat ander onbelangrik en eensaam laat voel? Is ek een van die wat ander laat voel dat hulle nie welkom is in my geselskap nie? Is ek ook 'n groepie-monster? Bly ek stil as iemand nader kom omdat ek eintlik besig is om hul te bespreek of te bespot? Tree ek altyd professioneel en in liefde teenoor ander op? Sê ek soms dinge voordat ek gedink het daaroor en maak iemand onnodig seer, al bedoel ek dit nie? Is ek deel van die Christen-gemeenskap wat net my Christenskap wys as belangrike mense kyk? Raak ek onnodig kwaad en vergewe moeilik? Is ek aangenaam teenoor sekere individue (my groepies) en dan tree ek mislik op teenoor die wat ek voel het my te na gekom? Doen ek moeite om misverstande uit die weg te ruim? Steur ek myself aan feite of skinderstories? Oordeel ek ander? Watter rol speel ek in ander se seer en eensaamheid? Kommunikeer ek soms mis en veroorsaak gapings wat vermy kon word? Sê ek soms dinge wat kon gebly het? Deel ek soms inligting wat ek weet iemand anders gaan seer maak? Bly ek stil wanneer iemand voor my iemand anders sleg behandel? Bly ek stil wanneer iemand in my teenwoordigheid onwaarhede of skinderstories oor 'n ander vertel?
As ek iemand al ooit onbelangrik laat voel het en die oorsaak van seer en eensaamheid is, vra ek vandag om verskoning. Indien ek iets verkeerd verstaan of geinterpreteer het, en dus verkeerdelik opgetree het, vra ek ook om verskoning. Soms moet ons 'n tree terug gee en besef dat ons onbewustelik in 'n oomblik iets mag sê of doen wat maklik verkeerd verstaan kan word en kan seermaak. Ons moet besef dat ons optredes en mis-kommunikasie gevolge kan hê wat verhoudings (hetsy professioneel of persoonlik) kan skade maak. Ek is nie 'n groepie-mens nie. Ek hou nie van boksies nie. Moet my asseblief nie in een sit nie en moet asseblief nie namens my besluit wat ek voel of dink nie. Moenie aannames maak nie, vra eerder. Want 'n volledige stukkie waarheid maak minder seer as 'n halwe-waarheid. Jy weet nie wat in my kop aangaan nie. Moenie dink jy ken my of my omstandighede of waardeur ek gaan of moes gaan nie. Want as jy nie in my naaste binnekring is nie, weet jy niks van my af nie. Jy dink jy weet. Oppas om ander te oordeel op grond van wat jy dink. Want bottom line, jy weet nie waardeur daardie persoon is of tans gaan nie. Wees bedag op watter stories oorvertel word en hê genoeg integriteit en savvy om te weet wanneer om liewer stil te bly. Dis 'n leerproses, niemand is perfek nie. Maar probeer. En erken as jy 'n fout gemaak het. Glimlag, groet, ondersteun. Vra so nou en dan hoe dit gaan en staan lank genoeg stil om die antwoord te hoor. Want op die ou end hoef almal nie van almal te hou nie, maar almal kan mekaar met respek, vriendelikheid en integriteit behandel. Moenie 'n groepie-monster wees nie.
![](https://static.wixstatic.com/media/8bbd64_7b5e63651ce34e95bedd2789f89fc91d~mv2.jpg/v1/fill/w_720,h_540,al_c,q_85,enc_auto/8bbd64_7b5e63651ce34e95bedd2789f89fc91d~mv2.jpg)