top of page

Tannie in haar rooi Hilux

So paar jaar gelede het ek vir bestuurlesse gegaan. Ek kan nie die oom of die bestuurskool se naam onthou nie. Maar wat ek wel onthou is die "screw die tannie in haar rooi Hilux" storie wat die oom my vertel het. In sy jare as bestuur-instrukteur het hy al snaakse gevalle gehad, maar die een wat hom elke keer laat glimlag is die beeld van die ongeduldige tannie in haar rooi Hilux wat al vergeet het dat sy eens op 'n tyd ook nog moes leer hoe om te bestuur. Elke keer wat ek senuagtig begin raak het omdat die gesoute bestuurders rondom my geirriteerd begin raak met die "learner-driver" sou die oom vir my sê: "Man, screw die tannie in haar rooi Hilux".


So screw die tannie OF oom in sy blêrrie Hilux. Ek ry gister in Langenhovenpark af in die besige straat gedurende spitsverkeer. Verstom oor hoe bestuurders (gesout en met jarelange ervaring) ongeduldig en ongelooflik haastig ver bo 60 km per uur op my afgejaag kom. Niemand wil vir iemand 'n geleentheid gee om af te draai nie. Met die vererg ek myself, want as elkeen net by die padreëls (of dan nou RIGLYNE) en spoedbeperking hou sal elkeen 'n geleentheid kry om te ry en sal daar nie rye karre opdam in slip-ways nie. Met my indicator aan sit ek so geduldig moontlik en wag my beurt af. Ek eye die sliwer gevaarte wat aangejaag kom en reken die voertuig is ver genoeg en indien dit teen die regte spoed aangery kom het ek meer as genoeg tyd om voor dit in te glip. Het ek myself lelik misgis, want die betrokke bestuurder het glad nie teen 'n konstante spoed van 60 km per uur beweeg nie, die ding het eerder drasties versnel. Die man het hom bloedig vir my vererg en sy bloeddruk het net verder die hoogte ingeskiet toe sy oë myne vasvang in my truspieëltjie en ek sit kliphard en openlik vir hom en lag. Ten minste weet hy nou sy gevaar-tuig het brieke èn dit werk. Ek is daarvan oortuig dat die hele Bloemfontein se ongeduldigste en haastigste bestuurders in Langenhovenpark gekonsentreer is. Die uitleg en die ontwerp van die sirkels (as mens dit sirkels kan noem) laat ook veel te wense. Werklik, met so groot bevolking sou mens reken dit regverdig ten minste twee ekstra robotte, veral naby die boeremark. Maar ek is geen pad-ingenieur, slegs 'n padverbruiker wat die ander pad-hooligans frustreer.


Tydens my ritte in en om die stad, besef ek gou dat daar baie haastige en ongeduldige bestuurders op ons paaie rondjaag. Waarom die haas? Mense ry uit hul beurt by 'n vier-rigting stop en veroorsaak helse verwarring vir die van ons wat agterbly. 'n Soliede sperstreep wat eens op 'n tyd dit verbied het om 'n ander motor verby te gaan het duidelik nou 'n ander betekenis. Hazards beteken deesdae jy kan regs of links afdraai en jy kan enige tyd in die middel van die pad stop. Wil jy nou meer? Hoe ongelooflik handig is dit! Dit alles wys net weereens vir my hoe selfsugtig en selfgesentreerd die samelewing geword het. Alles gaan oor my. Die eie EK. EK is haastig. EK het nie tyd om my beurt af te wag nie. EK sal afdraai of stop waar en wanneer EK wil. EK sal slegs diè padreëls gehoorsaam wanneer EK wil en wanneer dit MY pas. EK. EK. EK. Selfsugtig en selfgesentreerd. En die hele tyd is daar klein mensies in die kar wat hierdie gedrag waarneem en alles om hulle soos 'n spons absorbeer. En dan eindig die klein sponsies op in my klas en kan glad nie verstaan waarom hy die res van sy klasmaats en sy onderwyser in ag moet neem nie. Hy kan nie verstaan hoe dit moontlik is dat sy behoeftes nie dadelik aandag geniet nie en dat hy sy beurt moet afwag om sy vraag te stel nie. Hoe is dit moontlik dat juffrou 'n sperdatum kan gee vir die inhandiging van 'n taak of projek en dan vyf dae na die sperdatum weier om my projek, wat LAAT is, te merk nie. Want al het ek al vier weke gelede uitgevind van die takie het ek nie tyd gehad om dit die aand voor die sperdatum te voltooi nie. Of die aand daarna of selfs die aand daarna nie. Boetie wil nie sy huiswerk doen nie, want dit pas HOM nie. Hy het nie tyd daarvoor nie. Môre oggend in die klas is dit die onderwyser wat moeilik en onredelik is wanneer detensie uitgedeel word en huiswerk wat binne twaalf minute afgehandel kon wees word nou drie ure van opoffering. Ek veralgemeen nou verskriklik, en ja dit is waar dat dit nie altyd die geval is nie. Maar daar is daagliks ten minste een so 'n geval.


Ons weet nie meer wat gevolge is nie. Kinders word op skoolvlak toegelaat om hulself soos studente te gedra. Sorgloos en gevolgloos. Leerders besef te laat die gevolge van hul besluite ten opsigte van universiteitstoelating. As die vereiste 60% is, is 52% nie goed genoeg nie. Jy kan soveel by my kom pleit en huil as wat jy wil. As jy nie bereid is om self die tyd en opoffering te maak vir jou doelwitte nie kan niemand jou help nie. Ek is self nog 'n student (sal waarskynlik lewenslank een wees) en dinge het nog nooit net vir my gebeur nie. Mens kry mos daai mense wat met die spreekwoordelike goue lepel in die bek gebore is. Alles gebeur net vir hulle. Alles loop altyd vir hulle net reg, sonder enige harde werk en opofferings. Die individue wat net altyd alles ontvang en alles van selfsprekend aanvaar. Ek sit met my kalender vir kwartaal 4 voor my en wonder HOE gaan ek die kwartaal oorleef? Ek moet twee eksamens van my eie skryf en nog daarvoor voorberei ook. Dan is daar nog lesbeplanning en die opstel van eksamenvraestelle wat ook nog voorlê. Om nie eens te praat van al die vergaderings en skoolfunksies wat alles die kwartaal geskied nie. Ek raak skoon moedeloos, maar besef dit sal nie help nie. Daar was al 4de kwartale en daar sal nog vele wees. Almal ewe besig en kort. Maar screw die tannie in haar rooi Hilux, want ek sal doen wat ek kan. Ek sal my beste gee en so goed beplan as wat ek kan. Maar op die ou end is ek verantwoordelik vir myself en my eie doelwitte. So ek sal aanhou teen 60 km per uur ry waar dit van my verwag word, maar wanneer ek op die hoofweg klim draai ek my venster af en trap die petrol sodat die wind my hare deurmekaar kan waai en ek vir 'n oomblik kan voel soos 'n arend wat my vlerke span en hoog bo die wolke uitstyg.


RECENT POSTS:
SEARCH BY TAGS:

© 2023 by NOMAD ON THE ROAD. Proudly created with Wix.com

  • b-facebook
  • Instagram Black Round
bottom of page