So is dit daardie tyd van die jaar. Die tyd wat ek doodmoeg en gefrustreerd elke dag terug gaan skool toe en in my agterkop myself die heeltyd daaraan herinner dat dit amper vakansie is. Amper vakansie... amper vakansie... amper vakansie. Tussen berge merkwerk, my eie swottings en eksamen-toesig wink die vakansietjie, elke dag 'n bietjie nader. Ek kyk terug en wonder hoe op aarde het ek dit reggekry om betyds deur die oorvol leerplan te werk? Maar ek het dit reggekry... ook maar net net. Hoe is dit moontlik dat onderwysers so sukkel om klaar te kry met die werk, vra 'n ouer my. Is die silabis regtig soveel meer as wat dit vroeër jare was? Daar was nie so baie ekstra klasse in my tyd nie. Alles geldige vrae en observasies.
Ek dink terug aan toe ek op skool was. Dit is waar, ekstra-klasse was beslis nie die norm nie, eerder die uitsondering. Onderwysers was meestal in klasse, maar daar was wel dae wat hulle afwesig was of so besig met die reël van toere of ander aktiwiteite dat hulle by die skool maar nie in die klas was nie. Ek onthou hoe ons as kinders self die saal moes opmaak vir die matriekafskeid en kaartjies vir spesiale geleenthede en aktiwiteite self moes maak. Ek onthou atletiek byeenkomste met geverfde vlae en rasie-leiers wat snaaks aangetrek het, rokke van swartsakke en lint-stokke vir geesvang. Ek dink terug aan stywe en formele prysuitdelings wat vlot en elegant verloop het omdat leerders en ouers genoeg respek gehad het om stil te bly terwyl verrigtinge aan die gang was. Ek onthou die ongelooflike spesiale saal-byeenkoms waartydens die uittredende prefekte die leisels oorhandig het aan die nuwe prefekte. Ek dink terug aan koshuis-dinees, skool-sokkies, katkisasie in die koshuis se klein personeel sitkamer en Arno wat aan die einde van die aand op aandring van ons Titanic se tema-lied op die klavier gespeel het. Ek onthou laat aande na ligte uit se gedempte geselsies in die graad 7's se kamer. Louis wat die lemoenskil se sap in my oog gespuit het in die studiesaal. Ek en Melissa se studie-tafels wat agter die onderwyser aan diens se lessenaar was en hoe ons honderde briefies vir mekaar aangestuur het via 'n ketting in die studiesaal. Ek onthou die Dinsdagaand in die koshuis wat ek my groot-toon-nael in die badkamerdeur verloor het. Laataand spookstories en bangmaak dat niemand alleen wil badkamer toe gaan nie. Ek onthou mnr Fourie se "onderwyser salaris is so min dat ek Saterdae aande my bruinbrood-snytjie by die kombuisvenster uithang net sodat dit die bure se braaivleisrook kan opvang" - stories. Laataand Arries-prakties in die koshuis se eetsaal met my twee getroue Ugie-maats, Kiepie en Bunga. Ek onthou die matrieks se laaste saal-byeenkoms, almal stil en hartseer, wetend dat die hoofstuk in ons boek tot 'n einde gekom het. Ek onthou dae van kindwees. Sorgloos en vry. Wanneer ons in die klas gesit het, het ons gewerk. Die onderwyser het voor gestaan en 'n les aangebied, sonder om genoodsaak te wees om die les te stop en eers driekwart van die klas te dissiplineer. Dit was dalk een of twee individue. Die meerderheid van ons se huiswerk was altyd gedoen (of ten minste afgeskryf). Klasse is vinnig en relatief foutloos gewissel. Die onderwyser is gerespekteer en geëer, selfs beskerm.
So wat het verander? Kyk, ons was ook geen engeltjies nie, maar ons het maniere gehad. Ek hou vandag toesig by graad 8 en 9 leerders wat besig is om eksamen te skryf. Nadat die wag-tydperk voordat jy mag ingee verby is, laat ek die leerders inhandig (die wat wil) en hou rustig toesig vir die wat nog verder skryf. Met die kom daar 'n groep leerders rasend by die trappe af, en natuurlik maak ek die fout om hulle te vra om asb stil te wees, siende daar nog leerders is wat besig is om te skryf. So sal 'n graad 9 knaap my in die oë kyk en aanhou om kliphard te praat. Maar kyk, my bloed kook en ek besef as ek my humeur nou gaan verloor is daar moeilikheid en die seun is beslis nie my hoë bloeddruk werd nie. So vra ek hom wat sy naam is... hy ignoreer my... en ek dink: LAFAARD! Ek vra een van die ander seuns wat die knaap se naam is... Omphile ma'am, but that one will never change, not even a witch doctor can help him. En daar val my bloeddruk. Onderwysers het soveel meer geword as net mense wat kennis oordra, ons is nou ook opvoeders. Want gewone, basiese en goeie maniere is nie meer iets wat noodwendig in die ouerhuise aangeleer word nie. Onderwysers moet soveel van die onderrig-tyd afstaan aan opvoeding en dissiplinering dat dit onmoontlik raak om die werk so deeglik en doeltreffend deur te werk soos enige goeie onderwyser graag sou wou. Ons sit met kinders voor ons wat eenvoudig weier om saam te werk en stil te bly en die onderwyser geleentheid te gee om 'n les aan te bied. Kinders is selfsugtig en selfgesentreerd en altyd reg, die onderwyser is altyd verkeerd. As leerders akademies goed presteer is dit 'n puik leerder, maar sodra hulle swak presteer MOET dit die onderwyser se skuld wees. Leerders lieg blatant oor die ingee van werkstukke en daag onderwysers se gesag en integriteit uit. Ek is so besig om myself te "cover" dat ek soms wonder hoe lank ek nog so kan aangaan sonder om myself heeltemal te verloor. Jy sien, die silabis is dalk nie soveel MEER as vroeër jare nie, maar ongelukkig het tye verander en sit daar tussen 32 en 38 graad 8 en 9 leerders op 'n slag voor my waarvan te minste die helfte nie maniere het nie en glad nie kan verstaan waarom hy liefs moet stilbly terwyl die juffrou praat nie. Die leerder gee nie om dat daar dalk 'n paar is wat wel iets wil leer en graag wil oplet nie. Dis die leerders wat wel basiese maniere het en 'n belangstelling in opvoeding en die leerplan het wat die swaarste kry. Ja, daar is baie ligstraaltjies en kinders wat dit nog die moeite werd maak. Die probleem is dat die ligstraaltjies wat altyd in die meerderheid was, nou in die minderheid raak. Goeie, eerlike en standvastige kinders word afgetrek deur donker siele. Goeie kinders kry net so swaar soos goeie onderwysers.
Daarom staan ek elke dag voor my klas en regeer met 'n ysterhand, want ek is 'n ystervrou. Ek bied my lesse aan, en as jy nie saamwerk nie bel ek jou pa met MY foon en JY verduidelik vir die kwaai oom op die trekker in die middel van die dag iewers op sy plaas waarom die juffrou hom gebel het. Want in my klas, WERK ons en net dalk leer jy iets oor jouself of die leerplan. In my klas het jy respek vir jouself, jou klasmaats EN jou onderwyser. As Omphile deur die jaar in my klas was, het hy dalk vandag klein bietjie maniere gehad en nie 'n witch doctor nodig gehad nie. Ek haal my hoed af vir my mede-onderwysers wat elke dag die stryd saam my veg... want dit raak net al hoe moeiliker. Aan die einde van die dag is onderwysers ook net mense en kan ons ook net soveel ongeskikte afjakke, harde woorde, afkraak, selfsug, frustrasie en siel-dood hanteer. Op 'n dag gaan die stelsel wakker skrik en dan is dit reeds te laat... Dan het die goeie onderwysers hulle tassies gepak en hulle passie baie diep daarin begrawe en iets anders gevind om hul hande mee besig te hou. Dan sit ek in die oggend en drink koffie saam my man op die stoep, gaan vang 'n draffie, werk vir myself en spandeer tyd aan dit wat my lewens-kwaliteit verbeter... en lag weer. Want ek het al vergeet hoe my lag klink.
![](https://static.wixstatic.com/media/8bbd64_5933dd4697ab4a878558f0ce92e5e21f~mv2.jpg/v1/fill/w_720,h_479,al_c,q_80,enc_auto/8bbd64_5933dd4697ab4a878558f0ce92e5e21f~mv2.jpg)