Plaaskinders is spesiale mense. Ek praat nou nie hier van die moderne plaaskind met sy Merrel bootse wat hy asb tog net probeer skoonhou deur rondom al die bolle beesmis die reëndans te doen nie. Nee, ek praat juis van die plaaskind wat in die middel van die winter nie ore het as ma sê "trek aan jou skoene" en dan van warm beesmisbol na warm beesmisbol spring om die stok stywe, blou en yskoue tone te probeer warm hou. As jy gril was jy waarskynlik 'n stadsjapie. Die plaaskinders weet waarvan ek nou praat.
Ek staan soms verwonderd oor die feit dat my ouers ons enigsins groot gekry het sonder te veel letsels. En ek en my kleinsus was mak in vergelyking met ander. Ons kon lekker baklei. Met mekaar. Maar moenie dink iemand anders kom baklei met my sussie nie, net ek mag. Jy het tweede gekom as jy probeer het. Dit was 'n gegewe. Ons was nou nie baie "close" as kinders nie, maar ons kon saamstaan as dit moes. Saam het ons baie avonture gehad wat bygedra het tot die ongelooflike herinneringe van my kinderjare wat nou nog my hart warm maak wanneer ek terug dink.
Plaasmense ken van hard werk vir ses dae van die week. Sondae is heilig en is daar vir kerk, familie, groot middagetes en natuurlik rus. En die rus sluit 'n baie lang middagslapie in van amper direk na middagete tot laatmiddag. As kind kon ek nooit die nut van die lang Sondagmiddag-slapies verstaan wat 'n ewigheid geduur het nie. En dan verwag die grootmense nog van die kinders om ook te slaap of om stil te wees. Maar hoe moet vier niggies wat nie bekend is daarvoor om gevrek te wees nie dan nou rustig èn stil wees op 'n Sondagmiddag? Gaan nie gebeur nie. Die storie wat ek nou gaan vertel sluit juis die vier niggies in en ons ouma Anne. Nou ouma Anne was 'n regte plaatjie en baie ondeund. En sy kon lekker stories vertel. Eie aan enige ouma, moet daar iewers 'n storie wees wat kinders bang maak en verhoed om sekere waters te toets. Die plaaswerf wat omhein was, was baie groot en het meer as genoeg speel-plek gebied, dus het ons geen rede gehad om die plaaswerf te verlaat nie. Maar waar is die avontuur daarin? En ouma het dit geweet. Daarom seker die storie van Antjie Somers wat so bietjie aangepas was. Jy sien, volgens ouma Anne was Antjie Somers 'n lang, skraal man wat altyd 'n groot hoed dra en niemand het al ooit sy gesig gesien nie. En Antjie het graag op Sondae-middae, wanneer grootmense rus, rondgeloop om kinders te vang wat uit die huis uit sluip om kattekwaad aan te vang. Meneer Somers het altyd 'n groot streepsak oor sy skouer waarin hy dan die kinders gooi en wanneer hy genoeg kinders vir die week gevang het, gaan hy huis toe om hulle in sy groot, swart seeppot te kook. Hoekom enige mens so baie seep vir een week nodig het kon ek elk geval nooit lekker verstaan nie, maar ek het ook van beter geweet as om vir ouma te pla met so 'n onbenullige vragie. Ons was ook almal slim genoeg om baie bang te wees vir Antjie Somers, want nie een van ons wou graag seep word nie. Maar ons was ook baie nuuskierig...en braaf.
So met Antjie Somers in ons gedagtes sluip ons uit die huis uit om buite te speel. Stil natuurlik. So raak die sand-sak fort en kluit-oorlog later baie vervelig. Ons het ook al "touch" en wegkruipertjie probeer speel, maar dis nie baie lekker as julle so min is en die werf so groot is nie. Na net 'n paar minute het ons 'n meesterplan beraam. Ons gaan net in die hoenderhok, wat so 400 m buite die werf staan, gaan eiers soek. Let wel, eiers word eintlik in die oggend versamel. Eintlik het ons niks in die hoenderhok verlore nie. Ons besef onmiddelik dat daar gevolge sal wees indien ons gevang word, maar wie kan dan nou eintlik vir ons kwaad wees as ons dan eiers gaan versamel het? Die ou hek klink of dit enige oomblik uit sy skaniere gaan spring soos die ding sing toe ons dit net op 'n skrefie oopmaak sodat ons daardeur kan skuur. Al vier buite staan ons eers 'n rukkie stil om te hoor of daar nie dalk 'n grootmens wakker geword het van die hek se verdomde klaagliedere nie. Nee, die huis lyk nog net so rustig en stil soos wat dit die hele middag was. So stap die vier van ons baie braaf en opgewonde na die hoenderhok. Ons is vry! Ons stap gebukkend deur die lang gras, beweeg stadig en stil van miershoop tot miershoop, tot in die sloot. In die sloot lê ons eers 'n bietjie en beraam die volgende deel van ons plan in opgewonde fluisterstemme wat so hard is ons kan net sowel in ons gewone stemme praat. Na wat soos 'n eweigheid voel, ek is seker dit was meer in die omgewing van vyf minute, bereik ons uiteindelik die hoenderhok en neem stelling in aan die agterkant, uit sig van lastige grootmense wat dalk kan ontwaak en ons begin soek. As oudste niggie is ek in beheer van die bende, en natuurlik die braafste. Ons het nou so ver gekom, ons kan net sowel die geleentheid gebruik en nog verder in die pad op gaan ondersoek in stel. Ek dink elk geval nie ouma Anne se storie oor Antjie Somers is waar nie, hy is dan ook 'n grootmens so dis logies dat hy ook 'n middagslapie vang. Die ander drie stem saam. So beweeg ons verder op in die pad, maar aan die kante waar die gras lank is en ons heeltyd buite sig is (of so dink ons). Ons kruip hande viervoet en praat in fluisterstemme die hele pad. Daar word bespiegel oor oom Antjie en die moontlik dat dit dalk nie net 'n bangmaak-storie is nie. Ons beraam planne vir ingeval hy ons wel vang en in sy streepsak wil gooi. Ons is vier, daar is nie 'n manier dat hy ons almal in een sak sal kry nie, so iemand sal kan weghardloop en gaan hulp soek. Heel tevrede met ons plan beweeg ons aan. Teen die tyd het ons mekaar nou al goed bang gepraat met stories oor Antjie Somers, moontlike pofadders wat in die gras mag wegkruip en natuurlik skerpioene (wat let wel nie iets is wat voorkom in daardie geweste nie). Ons klein, bang kinderhartjies klop in ons kele, maar die avontuurlus is te sterk en ons beweeg aan. Die gevoel van vryheid en stout en die moontlikheid om gevang te word of om skotvry van dit af weg te kom lê vlak. Die vier van ons is dapper, en bang. Elkeen is banger as die een langs haar, met die vrees baie vlak lê in elkeen se oë, maar dis lekker.
Skielik hoor ons dit. Ons kinderhartjies het nou oor gegaan na turbo en dit voel of ons harte ons borskaste gaan verlaat so hard klop ons harte. Die besef daal op ons neer dat ouma Anne nie gejok het nie, want daar loop hy. 'n Skraal, lang man met 'n groot wit hoed op sy kop en 'n baie groot streepsak oor sy skouer, en hy fluit. Die geluid van sy gefluitery maar my naar en ek kan voel hoe my middagete opstyg na my keel. Ons sit verlam tussen die lang gras langs die pad. Antjie Somers bestaan regtig en hy kom reguit op ons af gestap. Sy streepsak is duidelik alreeds vol, dalk het hy al genoeg kinders vir die week en as ons stil genoeg sit en bly sal hy ons dalk nie sien nie. Ons oë staan stokstyf in ons koppe van skrik en beweeg saam met die lang, skraal man tot waar hy reg voor ons tot stilstand kom. Dis verby. Hy het ons gesien en nou gaan hy ons in sy streepsak gooi en ons in sy vuil, swart seeppot saam met al die ander kinders kook. Ons is so verlam dat al vier van ons vergeet van ons plan van aksie dat iemand moet hardloop om te gaan hulp soek. Antjie Somers lig sy kop op en kyk na die vier van ons wat versteen daar in die lang gras langs die pad sit. En toe praat outa Jim met ons: "Die klein-miesiesse is lekker stout. Julle moet kom by die huis, die grootbaas gaan julle boude warm slaan as hy julle vang dat julle by die huis uit is!" Die vooruitsig aan 'n pakslae gee vir die vier van ons nuwe krag in ons bene, ons vlieë op vanuit die gras en hol dat die stof sulke wolkies agter ons maak. Een van ons val nog oppad terug in die stofpad neer, vuil en bebloed, maar ons is te haastig om af te stof, tel haar op en sleep haar saam tot by die hek. Uitasem val ons neer in ons sandsak fort. Al ons gefluister en stil, stadige gekruipery vergete. Moeg, verlig, geskok, uitasem. Outa Jim is toe al die tyd Antjie Somers en hy werk vir ouma...
![](https://static.wixstatic.com/media/8bbd64_aff89fe7b2c246fcbaad9d2fb933f909~mv2_d_1600_1200_s_2.jpg/v1/fill/w_980,h_735,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_auto/8bbd64_aff89fe7b2c246fcbaad9d2fb933f909~mv2_d_1600_1200_s_2.jpg)