Ek word gereeld gevra hoekom ek 'n onderwyser geword het. Soms wonder ek self hoekom. Dit wil voorkom dat dit my Meestersgraad is wat mense verwar. Mense voel dat ek my tyd en lewe in die onderwys mors. Dit laat mens wonder en bietjie self ondersoek instel. As jy my twaalf jaar gelede gevra het wat ek na skool wou doen sou ek met groot sekerheid vir jou gesê het ek weet wel ek wil niè 'n onderwyser word nie. Maar jy sien, die Here het ander planne vir my gehad. Maak nie saak wat ek gekies het of hoe hard ek daarteen baklei het nie, Hy het op die ou end gewen. Onderwys is 'n roeping. En ek weet verseker ek is geroep. Maak nie saak watter vak ek aanbied nie, my plek is in 'n klaskamer vol jongmense. Dit is een van die min plekke waar ek heeltemal tuis voel. Vir my is onderwys nie net die oordra van vakkennis nie, want enige kind wat kan lees kan homself leer.
Onderwys is soveel meer as net die oordra van feite. Soms moet jy bereid wees om die dag se beplande les opsy te skuif en net luister, en op te voed. Kinders is nie net 'n studentenommer wat voor jou sit en sodra die periode verby is nie meer jou probleem is nie. Nee, kinders is juis soveel meer as net 'n nommer. Kinders is opreg. Meeste in elk geval. Wat 'n voorreg om elke dag met jongmense te werk. Om saam te kan deel in hul welslae en mislukkings. Om raad te kan gee en by te staan. Hulle op te tel wanneer die lewe hulle plat geslaan het en te verseker dat als regtig okey is. Grootmense val ook, en dan staan ons maar weer op. En dis okey. Maar soms het selfs ek nie antwoorde nie, dan luister ek net. Party vrae is moeilik en het geen maklike antwoord nie, dan stuur ek 'n skietgebedjie op en smeek vir die regte woorde. Kinders hou jou knieë op die grond en jou oë gerig na bo. Of dit nou jou eie kinders is of nie.
Maar kinders kan ook baie seer maak. Want hulle praat sonder om te dink, hulle is soms net te eerlik. Ten minste weet jy altyd waar jy met hulle staan. Dit is soveel anders om met kinders te werk as met grootmense. Grootmense het klaar idees wat nie verander kan (of wil) word nie. As 'n grootmens besluit het hy is reg, dan is dit so. Geen redenasie nodig. Maar met kinders kan jy nog redeneer en debateer, respekvol natuurlik. Ek sien nie meer die nut van klaskamers waar ek as onderwyser voor die bord staan en 'n les aanbied vir 30 - 40 minute en die kinders moet tjoepstil sit en als afskryf wat ek op die bord skryf nie. Nee, ek hou van interaktiewe lesse. Die kinders vra vrae en redeneer en debateer dat die rook draai. En ek is absoluut mal daaroor. Dit werk vir my.
Mens sou dink dat kinders onderwysers maklik vertrou, jy is dan 'n grootmens. Maar kinders is slim. Hulle kyk regdeur jou gedagtes tot binne jou siel. Hulle weet presies watter onderwysers hulle kan vertrou met hul geheime en wie nie. En as jy een van die gelukkiges is wat die kinders se vertroue en respek gewen het, is die onderwys 'n fees. Want dan kry jy die geleentheid om regtig op te voed. Jy kry die geleentheid om 'n daadwerklike verskil in 'n kind se lewe te maak en dalk selfs 'n lewe te red. Jy beteken iets vir iemand. Wat 'n groter voorreg as om 'n verskil in 'n kind se lewe te maak? My hart is so ongelooflik vol, dit loop eintlik oor. Nes ek begin wonder waarom onderwys, kyk ek na die gesigte voor my en ek besef net weer hoe ongelooflik geseënd ek is. Want al het ek nie my eie kinders nie, het ek eintlik vrek baie kinders.
![](https://static.wixstatic.com/media/8bbd64_afa0e97bfe7441ecb4724b5bad5f54b8~mv2.jpg/v1/fill/w_720,h_417,al_c,q_80,enc_auto/8bbd64_afa0e97bfe7441ecb4724b5bad5f54b8~mv2.jpg)