top of page

KOMMUNIKASIE-GAPING

Daar is vir my min dinge wat soveel probleme en misverstande kan veroorsaak soos 'n kommunikasie-gaping, of net mooi geen kommunikasie. Maar swak kommunikasie, of die gebrek daaraan, is glad nie iets nuuts nie. Dit is selfs ouer as die berge. En dan is daar die ou aanname-duiwel ook. Of iemand hoor 'n gesprek se stert en neem aan hulle weet waaroor dit gegaan het. Dit is hoekom ek hou van feite. Nie assumptions nie. Aannames is gevaarlik, BAIE gevaarlik.


Ek en my kamermaat van varsity is vandag beste vriendinne. Ons ken en verstaan mekaar baie goed. Dit is eers in ons tweede jaar van kamer deel dat my kamermaat aan my openbaar het dat sy aanvanklik "bang" was vir my. Ek was geskok. Sy deel my toe mee dat ek intimiderend kan voorkom en selfs aanvallend. Dit sit mense blykbaar vreeslik af. As dit nie was vir die feit dat ons gedwonge kamermaats was nie sou sy dalk nooit die moeite gedoen het om my te leer ken nie. Dankie tog sy moes maar. Want as sy aangeneem het ek is moeilik en altyd kwaad en "unapproachable" soos sy dit beskryf het (my rooma is Engels-sprekend), sou sy uitgemis het op die vriendskap van 'n leeftyd. Ja, ek het sterk opinies, en ek is loud, en ek kan nie stil bly nie, ek praat voor ek dink, en, en, en. Maar ek is mens. Ek is wie ek is en ek is baie gemaklik met wie ek is. Waarmee ek niè gemaklik is nie, is mense wat DINK hulle ken my. Mense wat hulle bevooroordeling met ander mense deel voordat die persoon kans kry om my te leer ken vir wie ek regtig is. Dankie tog vir die handjievol wat avontuurlustig genoeg was om die unapproachable te approach. Daar is genoeg staaltjies om 'n hele boek vol te maak. Maar dit is ons staaltjies. Staaltjies wat nostalgies op kuiers herroep word en ons laat lag dat ons mae pyn. Stories en staaltjies wat geskaaf en gevorm het aan die hegte vriendskappe wat ons met mekaar gesmee het. Vriendskappe wat so sterk is dat daar weke en maande verby gaan sonder kontak en dan hervat kan word asof daar nie 'n enkele dag verby gegaan het nie.


Ek is passievol en kan soms (eintlik meestal) baie sterk oorkom. Jy noem dit intimidasie, ek noem dit passie. Jy noem dit taktloos, ek noem dit eerlik. Jy kies die kant van die meerderheid, ek kies die kant wat volgens my oortuigings regverdig is. Jy kies 'n groep, ek kies myself. Jy noem dit selfsug, ek noem dit oorlewing. Ek kies om mense te leer ken vir wie hulle is en hulle dan so te aanvaar. My vriende is ver van perfek af, en ek ook. Maar ek weet hoe dit voel om te weet wat die waarheid is en jy mag dit nie hardop sê nie, en dan word jy ge-oordeel deur mense wat net een kant van die verhaal ken. Maar dis okey.


Feite. Koud, emosieloos, konstant. 'n Feit is 'n feit. Soos 'n koei. Jy kan jou storie praat nes jy wil, maar die feite bly staan. Dit is wat dit is. Feite steur ditself nie aan jou waarheid en my waarheid nie. Net die regte waarheid. Ons almal ervaar gebeurtenisse anders. Vir jou is een ding wat gebeur vreeslik en vir my is dit niks-seggend. Maar as ek iets sê of doen wat jou ontstel of waarmee jy nie saamstem nie, kom praat met MY daaroor, want èk kan iets daaromtrent doen, al is dit net om my kant van die verhaal te stel. Moenie dat storie-stertjies en kommunikasie-gapings ons opinies oor mekaar vorm nie. Moenie toelaat dat kinderagtige en emosionele optredes verhoudings versuur of selfs vernietig nie. Kommunikeer met mekaar, maak nie saak hoe ongemaklik die situasie is nie, want ek kan jou amper waarborg dat alles na die tyd sal verbeter. Praat met mense, kry die feite, moenie net aanneem nie. Moenie iemand anders se "waarheid" jou "waarheid" maak nie. Vind jou eie waarheid. Moenie uitmis op 'n moontlike mooi vriendskap net omdat daar 'n kommunikasie-gaping is nie. Maak die gaping toe.


RECENT POSTS:
SEARCH BY TAGS:

© 2023 by NOMAD ON THE ROAD. Proudly created with Wix.com

  • b-facebook
  • Instagram Black Round
bottom of page