top of page

Gedebiteurde tyd

Tyd. 'n Baie relatiewe begrip. Meeste van ons het eenvoudig net nie genoeg daarvan nie. Sommiges het te veel. Elke dag is 'n gespook in 'n wedloop om jou tyd optimaal te bestuur en te gebruik. Ons het gedeelde kalenders op slimfone en dagboeke wat vol bekrap word met kleurskemas en al. Maak nie saak hoe noukeurig jy beplan en herskeduleer en uitstel net om later af te stel nie, jy het nooit genoeg tyd nie. So hoe bepaal ons hoe, en met wie, ons die bietjie kosbare tyd aan ons geleen bestee? Voor jy jou ogies uitvee is dit als verby. Tyd wat jy NOOIT weer kan terugkry nie is vir altyd verlore. Weggeraap uit ons menslike hande en harte van vlees. Dit het my hard en ernstig laat dink aan hoe ek my tyd bestee. Hoeveel van dit wat ek op 'n daaglikse basis doen is werklik die moeite werd? Hoeveel van dit waaraan ek my kosbare tyd spandeer is werklik belangrik genoeg om tyd daaraan toe te staan? Watter deel van my dag regverdig die spanning wat elke dag op my maag voel? Hoekom jaag ek?


Waarom jaag enige iemand? Om gehoor te gee aan afsny-datums en tye wat net daar gestel is deur 'n ander MENS. 'n Ander mens wat geen benul het van wat in my lewe aangaan of hoe beknop en gejaagd ek spook om deur elke dag te kom nie. 'n Ander mens wat deur MY toegelaat word om besluite namens my te neem en my onder soveel druk te plaas dat dit voel asof ek gaan versmoor onder berge papier, reëls en regulasies, ongeleesde e-posse, jaarverslae, getuigskrifte en klagtes. Klagtes en negatiwiteit van mense wat ook maar net probeer survive. Dit maak nie saak hoe noukeurig ek my beplanning doen of hoeveel ekstra (onbetaalde) ure ek insit net om te voel ek is semi in beheer nie. Want al wat op die ou end saak maak is of die werk gedoen is of nie. Nie hoe naby of ver aan voltooi nie. Dit maak nie saak hoe onderbetaald, moeg, moedeloos en siek jy voel nie. Wanneer besluit mens jy het genoeg gehad? Wanneer jy op vier Urbanols 'n dag staat maak en 'n handvol pynstillers om die spasmas in jou nek en rug te onderdruk? Die einste pynstillers wat met 'n ander tipe medikasie geneutraliseer moet word om die knaende rou wondjies in jou maag en slukderm stil te hou? Wanneer jou man jou moeg en uitgeput langs die toilet optel en jou 2 am in die oggend ongevalle toe moet vat omdat jy vir die soveelste keer 'n maag-gogga opgetel het by die skool en jy 'n baie sensitiewe maag het? Wanneer jy elke dag jou alles gee vir kinders en jy by jou kar kom, gereed om jou dogtertjie by die skool te gaan oplaai en huis toe te gaan net om later vanaand weer terug te kom skool toe vir een of ander liga-wedstryd en jou bande is afgeblaas? Al vier. En beskadig. Wanneer jy laat kom vir 'n 07:15 vergadering omdat jy dit durf om vir 45 min aan jouself te dink en gou gaan oefen het vir jou eie sanity, net om vasgevang te word in rye karre wat wag om by dieselfde ingang in te gaan. Of is dit wanneer jy 'n vriendin het wat in die hospitaal lê met 'n pyn in haar hart en binneste wat net 'n vriendin kan verstaan en vertroos en jy het letterlik nie tyd om by haar 'n draai te gaan maak nie? Is dit dalk wanneer jy elke dag met jou geliefdes oor die foon kon gesels het vir ten minste 20 minute lank en skielik het jy nie eens tyd daarvoor nie? Of as jy familie- en vriende samekomste misloop omdat jy aan die slaap raak op die bank? Is dit dalk wanneer jy een oggend wakker word en besef daar lê 'n vreemdeling langs jou omdat jy die persoon vir wie jy eens die liefste in die wêreld was nie meer ken nie? Dalk is dit wanneer jy 'n verlies ervaar wat jou hele lewe so ruk en jy besef dat die een plek waar jy ondersteun en bemoedig moet word juis die plek is wat jou verder breek en in die donkerste duisternis van jou gedagtes in trap. En skielik voel jou lyf en jou gedagtes yskoud en bitter alleen.


Wanneer jy te veel dinge het om te doen het jy nie genoeg tyd nie. So hoekom soveel dinge op jouself neem? Hoekom tyd bestee aan dinge wat jou siel ongelukkig maak? Hoekom toelaat dat ander mense namens jou besluit hoe jou tyd bestee moet word? Elke persoon is anders. Verskillende dinge maak ons gelukkig en is vir ons belangrik. Vandag maak ek my lysie. Op my lysie skryf ek die dinge neer wat my gelukkig maak en wat vir my belangrik is. Ek skryf ook die name neer van mense wat lig in my lewe bring. Ek besluit hoe ek my tyd sal bestee. Want op die ou end sal ek die een wees wat verantwoording doen vir myself. En daardie dag wil ek kan sê dat ek 'n vol lewe gehad het en dit gevul het met mense en dinge wat vir my saak gemaak het. Ek wil kan sê dat ek gelukkig was en nie vir een oomblik alleen nie. Ek wil kan sê dat ek genoeg tyd gehad het. Nie te veel nie, nie te min nie. Net tyd. My tyd.



RECENT POSTS:
SEARCH BY TAGS:

© 2023 by NOMAD ON THE ROAD. Proudly created with Wix.com

  • b-facebook
  • Instagram Black Round
bottom of page