Sue Heck van "In the middle" glo vas dat 'n glimlag aansteeklik is. Ek is geneig om met haar saam te stem. 'n Enkele glimlag kan so baie inligting kommunikeer sonder 'n enkele woord. Daar is so 'n groot verskeidenheid van glimlagte dat jy presies kan weet wat 'n persoon dink deur net na hul glimlag te kyk. Jy kry die glimlag wat jou so ongemaklik laat voel dat jy nie vinnig genoeg uit die persoon se geselskap kan kom nie. Dan is daar die glimlag wat deur jou siel boor en jou laat glo die persoon kan jou gedagtes lees. Dan kry jy die glimlag wat jy self onwillekeurig vorm op jou lippe wanneer jy voor jou siel weet die persoon voor jou is besig om vir jou te vertel dat perde-drolle vye is. Die glimlag wat jy kry wanneer jy jou verlekker as die ou wat soos 'n idioot bestuur voor jou afgetrek word deur die speedcop. En so kan ek heeldag aangaan...
Maar dan kry jy daai een enkele, opregte, uit die hart uit glimlag wat net aansteeklik is. Die tipe glimlag wat jou ook laat glimlag, sonder dat jy weet hoekom. Wanneer jy een van daardie dae ervaar wat dit voel jy moes net nooit vanoggend opgestaan het nie en eerder in die bed gebly het. Dan staan jy in die ry in Pick&Pay, dit voel vir jou asof daar 131 mense in die ry staan en wag en net 3 uit die 50 betaalpunte is beman. Jy kan op hierdie stadium 'n eier kook van ongeduld en magteloosheid. Maar jy moet die brood en melk betaal want daar is nie meer in die vrieskas wat jy kan uithaal nie. En dan sien jy dit. Die klein dogtertjie in die ry langsaan wat aan haar ma se romp vashou. Julle maak oogkontak en daar is dit. Daardie een groot, opregte en onskuldige glimlag. En sonder om daaroor te dink glimlag jy terug. Want die glimlag is aansteeklik. Of jy sit in 'n vergadering wat net nie wil end kry nie. Onbenullighede (volgens jou) wat oor en oor bespreek word sonder 'n oplossing. En dan kry jy mos daai een persoon wat ALTYD iets moet sê. Jy kyk ongeduldig op jou horlosie en begin dink hoe jy jouself uit die vergadering kan kry. Jy werk jouself net verder op deur 'n lysie agter op die agenda te begin maak oor goed wat jy nog vanmiddag MOET doen. Jy kyk skielik op en vas in jou kollega wat oorkant jou sit en lyk asof hy presies weet wat in jou kop aangaan want hy is self besig met dieselfde gedagtes. En daar kom die glimlag. Die aansteeklike een wat jou ook laat glimlag. Vir 'n oomblik voel jy skuldig omdat jy nie op die vergadering konsentreer nie.
Sommige glimlagte kan jou 'n hele dag hou. As jy glimlag, hoe kan iemand anders in jou vasloop en nie ook begin glimlag nie? As iemand vir my glimlag kan ek myself nie help nie, ek glimlag terug en dan kan ek gewoonlik net nie ontslae raak van die glimlag nie. Daar is vir my meer rede om te glimlag as om te huil. Soms is dit moeilik om die redes raak te sien, maar mens moet klein begin. Sien die klein redes vir glimlag eerste raak. Hulle is heeltyd daar. Die glimlag-redes is in die sonsopkoms, in die koppie koffie wat jy in die bed kry, elke hallo, elke nuwe dag, elke vriendelike gesig in die personeel-kombuis.
Die redes is daar... so GLIMLAG.