top of page

STERK VROUE VERSTERK MEKAAR

Sterk vroue versterk mekaar. Dit is iets wat ek persoonlik ervaar. Hoekom vrouens mekaar nie meer kan ondersteun en opbou nie is iets wat my verstand totaal te bowe gaan. Maar met my sielkunde studies en boeke wat ek verorber, besef ek ook dat daar diepgewortelde issues is waarmee vrouens worstel. Vroue voel hulle staan alleen, hulle MOET sterk wees. Party dames kan dit nie hanteer as die spotlight bietjie op iemand anders skyn nie. Vir sommige is net die gedagte daaraan dat hulle moontlik vervang kan word, hetsy persoonlike of professionele hoedanigheid, ondenkbaar. Hierdie gedagte laat vroue onbelangrik voel, eensaam selfs. En dit bring dan die naels uit. Vroue wat sterk opinies het, onafhanklik kan funksioneer en sterk oorkom loop veral deur. Ek weet.


Aanvanklik het ek probeer om die verskynsel te verstaan. Dit het my 'n ruk geneem om tot die besef te kom dat ek dit nooit sal verstaan nie, ek moet dit liewers net aanvaar. Vroue is spesiaal, ingewikkeld, maar innerlik baie sterk. En met aanvaarding kom vrede. Ek kan nie ander verander nie, maar ek kan myself verander en ek kan kies met wie ek myself omring en naby my binne-kamer hou. Ek kies om ander vroue se sterk en mooi eienskappe te identifiseer en hulle op te hef, te motiveer, te prys, te versterk. Ek kies om negatiwiteit te smoor met positiwiteit en oplossings.


JY is nie vervangbaar nie. Want jy is 'n individu, spesiaal en enig in jou soort geskape. Die Here maak nie foute nie. Daar is net een van jou, dus is JY nie vervangbaar nie. Besef dit. Verstaan dit. Aanvaar dit. Iemand anders kan dalk jou pos of posisie in 'n maatskappy of organisasie vervang, maar nie vir JOU nie. Die oomblik wat ek tot die besef gekom het dat EK nie vervang kan word nie, het daar 'n massa rots van my skouers gelig. Die rots van onsekerheid, professionele-jaloesie, woede, venyn, hartseer, selfsug. Maar daarmee saam het 'n verantwoordelikheid gekom. Die verantwoordelikheid om die beste vrou te wees wat ek kan wees. As iemand seer maak is dit omdat hulle self seer het, moet daarom nie kwaad met kwaad vergeld nie. Dis moeilik, maar dit is ook doenbaar. Leer om maklik te vergewe. Leer om meer te glimlag en lag! Lag diep, innerlik, kinderlik en met oorgawe! Bid. Bid vir jouself, maar veral vir die wat seermaak omdat hulle seer het.


Dankie Vader vir mooi, sterk vriendinne by wie ek in 'n oomblik van frustrasie en moedeloosheid kan afpak. Dankie dat hulle luister, sonder om te oordeel. Dankie dat hierdie sterk vroue my versterk en weer ophelp. Dankie dat die sterk vroue waarmee ek myself mag omring, my versterk. Help my om hulle ook te versterk. Help my om lief te hê, juis wanneer dit nie verdien word nie. Help my om te verstaan en empatie te toon, juis wanneer ek voel ek kan nie. Help my om te vergewe, juis wanneer ek voel dit word nie verdien nie. Help my om nie seer te maak nie, maar eerder my hart vir U te gee vir genesing. Dankie dat ek in my swakste oomblik weer versterking by U kan vind.


RECENT POSTS:
SEARCH BY TAGS:

© 2023 by NOMAD ON THE ROAD. Proudly created with Wix.com

  • b-facebook
  • Instagram Black Round
bottom of page