top of page

TYD IS NET GELEEN

My hart raak elke keer seer as ek lees van nog 'n jongmens wat dood is. Selfdood, ons mag dit mos nie meer selfmoord noem nie. Of motorongeluk. Of plaasaanval. Maar wat maak die oorsaak nou eintlik saak? Wat maak die ouderdom saak? Oud of jonk, dit bly hartseer. Dit laat my elke keer weer besef dat my tyd net geleen is. Ek weet nie wanneer my tyd sal aanbreek nie. Is ek gereed? Wat het ek bereik? Waarvoor sal ek onthou word? Maar wat maak al hierdie dinge eintlik saak?


Hoe het ek my tyd spandeer? Ek wil nie eendag aan die einde van my paadjie kom en besef ek het my kosbare tyd en energie op die verkeerde mense en dinge gemors nie. So wat maak eintlik vir my saak? Ek het so 'n week of wat gelede 'n quote gelees wat reken ek moet die mense in my lewe kies wat my kies. Hoe mooi is dit nie? Hoekom tyd mors op mense wat jou nie kies nie. Ek vat so drie treë terug en kyk na my lewe en na die mense waarmee ek myself omring. Ek spandeer nie naastenby genoeg tyd saam met die mense in my lewe wat regtig saak maak nie. Die wat altyd daar is, maak nie saak wat nie. Want in 'n lewe wat net gejaagd is, is daar nie meer tyd vir 'n koppie koffie saam met 'n ware vriendin nie. Is ek te besig om die telefoon op te tel om net vir 10 minute lank met ouma te gesels. Kan ek nie 'n minuut spaar om gou vir kleinsus of ma 'n whatsapp te tik nie. Maar ek het tyd vir ander snert. Ek het tyd om myself te ontstel oor iemand wat my beskuldig oor iets waaraan ek totaal onskuldig is. Ek het tyd om myself te vererg vir die taxi-bestuurder wat alweer voor my inry sonder om 'n flikkerlig aan te skakel. Ek het tyd om kwaad te raak vir mense wat my probeer misbruik en onregverdig behandel. Snert.


Ek onthou 'n Maart-vakansie in Port Alfred saam met vriende. Ware vriende. Die tipe wat soos gom klou, want dis kwaliteit gom. Elke aand se braaivleisvuur terwyl ons na die see kyk van die stoep af. Elke oggend se ontbyt op die groot stoep. Kuiers en geselsies wat mens elke keer laat glimlag wanneer jy terug dink. Vriende voor wie dit okey is om jou naam te plank en by wie se huis jy maar in jou pantoffels kan opdaag sonder om gejudge te word. Ons maak te min tyd vir mense wat saak maak. Ek dink aan koue Augustus-maand biltongetes op die platteland om geld in te samel vir die kerk. Saam met vriende, familie, baie biltong en regte vasdans en two-step musiek. Ek dink aan troues wat tot vroegoggend gaan en ons net betyds huis toe gaan om die son te sien opkom. Kwaliteit-tyd saam met kwaliteit mense.


Ek sien vir oupa sit voor die houtstofie in die plaaskombuis. Die water was altyd warm as oupa op die plaas gekuier het. Oupa was die beste en getrouste pen-pel en het die beste raad gegee. Wat ek nou sou doen om net nog eenkeer 'n brief van oupa te kon kry. En my liefste ouma Anne. Ons weeklikse telefoon gesprekke was altyd 'n hoogtepunt van my week, maar te gou verby. So hoekom is ons altyd spyt wanneer dit verby is? Wanneer dit te laat is.


Tyd is net geleen en niemand weet wanneer dit gaan uitloop nie. Ek koester my naaste vriende en my familie. Ek besluit hoe ek my tyd bestee. "Ek het nie tyd nie" is nie 'n geldige verskoning nie. Op die ou end wil ek kan sê dat ek GELEWE het en tyd spandeer het saam met die mense in my lewe wat my gekies het. Ek kies om gelukkig te wees en die lewe te omhels saam met mense wat my laat lag, my gelukkig maak en my liefhet.






RECENT POSTS:
SEARCH BY TAGS:

© 2023 by NOMAD ON THE ROAD. Proudly created with Wix.com

  • b-facebook
  • Instagram Black Round
bottom of page