top of page

"VET MENSE MAG OOK WARM KRY"

  • Writer: Karen Venter
    Karen Venter
  • Jul 2, 2017
  • 4 min read

Elkeen het seker al 'n jaar beleef wat jy nooit weer wil oorhê nie. Die tipe jaar wat jou tot breekpunt dwing en jou net weer jou lewe laat herevalueer. Vir my was 2015 daardie jaar. Dit was die jaar wat my tot op breekpunt gedwing het. Ek het gebreek. Stukkend. Elke oggend was 'n stryd om myself uit die bed te kry en gereed vir werk. Die waarheid, ten spyte van die aangeplakte glimlag, was ek nooit gereed vir werk nie. 'n Stukkende mens kan nie ander stukkendes help nie. Dit is die tydperk in my lewe wat ek die meeste besef het presies hoe selfsugtig die mensdom is en kan wees. Jy sien, as elkeen van ons met ons eie demone spook en fight vir survival, kan ons nie iemand anders se seer en demone raaksien nie. En niemand kan jou kwalik neem nie. Mei-maand was die laaste strooi. Ek moes erken ek het hulp nodig. Maar hoe? Dank die Here vir die ongelooflike man wat hy vir my gestuur het. 'n Man wat by my staan, ongeag.


Die plek in my kop waar ek myself bevind het was donker. Pikgiet swart. Geen liggie wat wink in die duister nie. Net nag. Pikdonker. Swart. Nag. En skielik het 'n flou liggie aangekom. En weer verdwyn. Ek het 'n kluisenaar in my eie huis geword, want om uit te gaan, maak nie saak waarheen, was net te veel moeite. Te veel trane. NIKS in my klerekas het meer gepas nie, nie eens my ouma-panties nie. Donker. Pikgiet swart. Nag. Die liggie in die donker wat aankom, en weer verdwyn. En so het dit aangehou totdat die liggie begin aanbly het. Teen November het die liggie al helder begin skyn. Maar ek het reeds soos 'n klein seekoeitjie gelyk. Met my suster se troue het die donkerte in my kop begin wyk, en ek het weer begin lag. Veral vir myself. Die strooimeisie rok het soos 'n klein pers tent om my rolle geval. Gelukkig vir die tent wat my rolletjies weggesteek het. Kort daarna het 'n vriendin van my getrou. En steeds niks in my klerekas gepas vir 'n troue wou pas. Ek kon nie weer myself in die pers tent indwing nie. 'n Vriendin is saam met my om iets te gaan soek om aan te trek. Uiteindelik vind ons toe iets in 'n Sjienese-winkeltjie. Swak gehalte en goedkoop. Maar dit was vrolik en groot genoeg. Na die pragtige en heerlike plaastroue vat ek en manlief die pad Transkei toe om bietjie by my ouers te gaan kuier.


Desembers is seker die vrolikste tyd van die jaar vir meeste mense. Dit is ook die warmste tyd van die jaar as jy in Suid-Afrika bly, veral aan die voet van 'n berg waar al die hitte opgaar. Of so voel dit, as jy 'n baba seekoeitjie is. Teen die tyd was dit nie slegs my netjiese klere wat nie meer verder uit hul nate kon rek nie, maar ook gewone somersdrag. Ek het my kortbroeke vol gesit. Jy weet as jy plaasbrood bak soos jou ouma dit nog gedoen het. Wanneer die broodjies uit die oond kom hang groot stukke van die brood buite die pan soos dit in die oond oor die rand van die pan gerys het. So is ons see toe in die Transkei oor nuwe jaar. En dit is warm by die see daar in die Transkei. En as jy vet is dink jy heeltyd almal praat oor jou en van jou. So laat my vader 'n opmerking (ek kan nie eens onthou wat dit was nie) en ek antwoord; "Man, vet mense mag ook warm kry!". En in daardie oomblik besef ek skielik dat ek weier om verder groot T-shirt broeke te koop of om tent-rokke te soek om rolle weg te steek. Die liggie in die donker is toe al 'n pragtige somersoggend in my kop met amper geen nag wat meer dreig om deur te skemer nie.


Terug by die huis tel ek toe my eerste Herbalife shake op en begin die lang en harde pad van 76.1 kg na 62 kg te stap. En al die tyd staan my ongelooflike man agter my en ondersteun my, soos hy al die tyd gedoen het selfs toe ek hom nie in die donkerte in my kop kon hoor of sien nie. Ek maak 'n ongelooflike vriendin in Carla Coetzee wat my tree vir tree ondersteun saam met my nuwe, gesonder Herbalife leefstyl. Vyf maande later bring 'n vriendin vir Evelyn Shahim van #lookhotnaked oor my pad. Evelyn begin om as my personal trainer aan my selfbeeld en lyf te vorm. Sy ondersteun my en bemoedig my, selfs toe die rolle lyk of hulle hier is om te bly. In die proses kry ek nog 'n vriendin by en vandag, meer as 'n jaar gelede, kyk ek terug. Ek is dankbaar.


Ek is dankbaar omdat ek in 2015 geleer het van ware vriendskap. Ek het in my donker jaar besef ek is sterker as wat ek besef het en dat, maak nie saak hoe donker dit in my kop mag lyk nie, die Here my nooit alleen sal los nie. My man is baie lief vir my. Ek is nooit alleen nie. Net toe 2017 vir my begin voel soos 2015 en ek in my kop dink, aggenee, nie alweer nie, besef ek. Nee. NIE alweer nie. Want jy is nou sterker. Jy is toegerus, baie beter as in 2015, om enige iets te kan hanteer. Ek is sterk. Ek ken myself. Ek is lief vir myself. Ek is vry.

Thailand Oktober 2015


Comments


RECENT POSTS:
SEARCH BY TAGS:

© 2023 by NOMAD ON THE ROAD. Proudly created with Wix.com

  • b-facebook
  • Instagram Black Round
bottom of page